
.jpg)
Die gewilde “Boesmanskloof”- Wandelpad en” Die Galg”- Pas
Swemplek in berg lawe op Staptog
Skrywer Manie Ackermann/oudjoernalis
Gepubliseer in Bylae van DIE BURGER 14 Desember 2004
Besoekers aan die Wes-Kaap wat nie net aan wingerdstokprodukte wil proe nie,maar ook n ordentlike voorsmakie wil kry van die wandelpaaie in die berge van diégewste,hoef nie langer landuit te ry nie. Boonop is net 2 dae van hul kosbare vakansietyd nodig om die uitdaging van die Boesmanskloof-roete tussen Greyton en McGregor aan te durf,skryf Manie Ackermann
Hoewel die heen- en-weerafstand n redelike 28km is (dus 14 km per dag) waarsku kenners soos prof. Hugo en Mike Lundy dat voornemende stappers fiks en goed toegerus moet wees. Dit is n skilderagtige roete met verruklike uitsigte,maar daar is bitter min skadu in die somer en die klim van altesame 600 m is uitputtend.
En dit het ons groepie van die Sanlamstaptoerklub wel deeglik op n warm dag in November agtergekom. Ons is om 07:00 uit Bellville weg en kon reeds om 08:30 ons tog in die rustige Greyton begin nadat ons die motors in die hoofstraat geparkeer het.
(Terloops, met n vorige staptog het ek my selfoon en n koevert met R200 kontant op my motor se enjinkap vergeet. Met ons terugkeer die volgende middag het ek alles net so op die enjinkap teruggevind. Boonop was daar 3 stemboodskappe op die foon. Dit beteken daai foon het vibrerend op die enjinkap rondgedans om aandag te trek-en tog was alles nog daar! Maar moenie die engele beproef nie-sluit liewer alles mooi toe.)
N Troppie baldadige perde het in die hoofstraat by ons verbygegalop voor ons by die laaste dwarsstraat links gedraai en n fraai klipmuur die begin van die roete naby reuse bloekombome aangedui het.
Die eerste klim skuins oor n randjie voordat jy die Gobosrivier oorsteek wat uit die kloof vloei en later by Riviersonderend aansluit,bied die eerste uitsig op die slapende dorpie wat onder die groen bome wegkoes.
Maar demp maar die vrouens se gilletjies van verwondering – daai dorpie gaan jy nog lank sien soos die paadjie sonder ophou boontoe wurm tussen Abdolskop en Perdekop regs van jou en Galgeberg links. Uiteindelik verdwyn Greyton en lyk dit asof jy byna bo is. Maar laat sak maar die kop,skud die rugsak reg en hou aan.
En moenie dat Breakfast Rock jou onnodig verbly nie. Hou maar die kop steeds laag en trap mooi tussen die los klippers die hoogtes uit. Ná n onverwagte afdraand, n laaste oppie en n klimtog van 450 m is jy by Uitsigpunt,met Boesmanskloof uitnodigend tussen die berge ingebou.
Ek het die kloof so bekyk en,gedagtes aan die lang opdraand agter my, skielik respek gekry vir die voetbalspanne van Greyton en McGregor wat glo in die jaar toet hier deurgedraf het, mekaar op die rugbyveld verniel en dan weer huistoe gedraf het. Die kortpad deur die kloof het n ompad van 140 km met die pad langs uitgeskakel.
Dankbaar dat ons nie hoef te draf nie,het ons deeglik asemgeskep by die uitsigpunt. Toe wag nog nert sowat n uur se stap met n bergpaadjie langs na van die mooiste swemplekke in die bolandse berge – die groot bruin poele onder die Oakes-waterval.
Skielik was daar weer lewe in ons groepie en moes jy jou bedwing om nie elmboë in te lê om nie eerste by die water te kom nie. En was die poele n lafenis op daardie warm dag!
Nogal moeilik om stappers weer bymekaar te maak en die volgende bult aan te durf as die sonnetjie steeds ongenadig bak. Ons het n hele uur en n half daar in die strelende water baljaar en rustig gekou aan ons middagete-padkos voordat ons onwillig die laaste skof en klim aangedurf het.
N Uur se stap van die waterval het ons die enigste ander drinkwater teëgekom waar die voetpaadjie tussen ruie palmietgrasse die rivier kruis. Net oorkant die rivier sluit die volgende dag se terugpad weer by die paadjie aan. Maar dit was môre se dinge.
Nou het die paadjie onhebbelik skuins teen die Galgeberg uit koers gekry na die oorblyfsels van die onvoltooide historiese bergpas wat McGregor en Greyton sou verbind.
Dié is in 1930 in die depressie jare begin om werk te verskaf. Elf jaar lank is pik geslaan,rotse weggeskiet en klippe gestapel tot sowat 4 km pad al langs die kranse gemaak is. Maar toe verdwyn die voorman glo met n sak vol geld en word die padbouery gestaak. Ons was die padbouers egter ewig dankbaar vir hul pogings,want met die kappery het hulle daar teen die kranse die koelste skaduwees geskep wat jy kon begeer. Na n lekker nagrus het ons die pad weer aangedurf.
Met die terugtog ontvang ons toe n klein bonussie – heerlik betrokke weer en selfs n stuifreëntjie om ons verder af te koel. Ons kon dus rustig stap en ons verwonder aan die diep klowe met die pragtige swempoele voordat ons die vorige dag se paadjie bereik het. Op die eerste gedeelte het ons die mooiste heide teëgekom. Of dit die skaars en bedreigde Erica galgebergensis of Erica parvulisepa was,weet ek nie,omdat nie een van ons n kenner is nie.
Wat ons wel herken het,was n witkruisarend wat dierlik bo die kloof gedraai het. In die kranse kon ons ook nou duidelik die bekke van bewoonbare grotte sien. Het Boesmans destyds daar gewoon en vandaar die naam Boesmanskloof ?
Weer het ons rustig by die Oakes-waterval gesit en kou en daarna die lang afdraand na die motors aangepak. Skuins voor 13:00 was ons op Greyton – gereed vir n koue bier en wafels met room en roomys!